Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Uit " Vishoring " deur UYS KRIGE
Uit " Vishoring " deur UYS KRIGE [boodskap #59324] Do, 28 Maart 2002 22:53
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Uit "Vishoring"
Vir Herman Steytler
UYS KRIGE

.....

Kom kyk, mensdom, kom kyk!
Toet-toet-teroet! Toet-toet!
Dis viste, viste van
die fynste voorste bloed.....

Kolstert, marsbanker, daeraad,
stompneus en kabeljou...
Kyk, kyk, die kleure net!
Dis silwerwit, dis silwergrou,
goudgeel en groen, dagbreek se rood
en daardie diepseeblou.

Het jy ooit in jou lewensdag
so 'n fancy dress aanskou?
Of is dit dalk 'n reënboog wat
hier by my piekniek hou?
Kyk net hoe glinster hul
soos douvoordag die dou.
Kolstert, marsbanker, daeraad,
stompneus en kabeljou.
Fyn uitgevat en silwerskoon,
my rooi ou rooi romeintjie.
En daardie vietse fransmadám, sy met
die groot swart oë, die ou kleintjie.
Ag, dat hulle almal eindig moet
aan die endjie van 'n lyntjie!
Kom koop, toet-toet! Kom koop, toet-toet!
Of het jul dalk geen breintjie.

Dink aan die Grote Visterman,
Hy wat sy Stok oor almal swaai,
die kleinste ou klipvissie en
die yslike mensvreter-haai.
Hy't mos sy eie lewe
soos koringkorrels uitgesaai
opdat ons alger later
die ewige geluk mag maai.
Daarom moet ons in vrede leef,
wit, bruin en swart en kind en kraai,
moet ons mekaar verdra, verstaan,
ja, hiersô aai en daarsô paai....
Ek weet dis swaar, verbrands,
maar ons moet traai
om te probeer
en traai.... en traai... en traai...
(Hier's tjy al weer, tjou Kaffertjie!
Lat stan daai vis! Loep in tjou maai!)
Onthou die groot, groot Visstok wat
oor almal swaai.
En koop, toet-toet, kom koop, toet-toet,
my vissies van Valsbaai!
Vorige onderwerp: Uit "Die Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN
Volgende onderwerp: Uit " Die passie van ons Heer " deur W.E.G. LOUW
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 11 21:07:40 MGT 2024